Jaarboeke

Program: BSW Maatskaplike Werk

Kindly take note of the disclaimer regarding qualifications and degree names.
Code Faculty
01130144 Fakulteit Geesteswetenskappe
Credits Duration
Minimum duur van studie: 4 jaar Totale krediete: 589
Contact:
Prof LS Geyer
[email protected]
+27 (0)124202648

Programinligting

Die doel van hierdie geïntegreerde program is om professionele opleiding aan te bied ter voorbereiding vir ’n beroep in maatskaplike werk. Die teoretiese oplei­ding gaan hand aan hand met toepaslike praktiese inoefening van vaardighede.

 

Toelatingsvereistes

  • Die volgende persone sal vir toelating oorweeg word: ‘n kandidaat wat oor ‘n sertifikaat beskik wat deur die Universiteit as gelykstaande aan die vereiste Graad 12-sertifikaat met toelating vir graaddoeleindes aanvaar word; ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander tersiêre instelling is of die status van ‘n gegradueerde van so ‘n instelling geniet; en ‘n kandidaat wat ‘n gegradueerde van ‘n ander fakulteit van die Universiteit van Pretoria is.
  • Kandidate wat voldoen aan die minimum vak- en prestasievereistes sowel as die TPT-vereistes van hierdie programme sal in die programme geplaas word, onderhewig aan die beskikbaarheid van plekke. 
  • Om toelating te behou, sal daar van leerders verwag word om 'n TPT van ten minste 30 in Graad 12 te behaal. 
  • Aansoekers wat aan die minimum TPT-vereistes voldoen, maar nie aan die vakvereistes nie, moet die NBT aflê.
  • Lewensoriëntering word uitgesluit wanneer die TPT bereken word.
  • Departementele keuring vind plaas aan die einde van die eerste jaar en is gebaseer op akademiese prestasie (i.e. GPA [geweegde gemiddelde] = 60%), aanlegtoetse en ’n onderhoud.

Minimum vereistes 

Prestasievlak

TPT

Afrikaans of Engels

NSS/IEB

HIGCSE

AS-Level

A-Level

5

3

C

C

30

Ander programspesifieke inligting

  • Studente wat in terme van hul akademiese geletterdheid as risikogevalle geïdentifiseer is, is verplig om VAG 110 en VAG 125 te neem.
  • Studente wat nie in terme van hul akademiese geletterdheid as risikogevalle geïdentifiseer is nie, is verplig om ’n taalmodule ter waarde van 12 krediete uit die lys van taalmodules (sien Akademiese geletterdheid).
  • Studente word gekeur vir toelating tot tweedejaarsvlak. Die keuringsproses sluit in akademiese punte (geweegde gemiddelde van 60), aanlegtoetsing en ’n onderhoud wat dieselfde gewig dra. ’n Keuringsproses is ook van toepassing op studente van ander universiteite wat aansoek doen om hulle maatskaplikewerk­studies by UP voort te sit. Inligting kan van die programkoördineerder verkry word.
  • Geen student sal toegelaat word tot die vierde jaar van die BSW alvorens al die maatskaplikewerkmodules tot en met die derdejaarsvlak asook all modules voorgeskryf vir die eerste en tweede jaar van die BSW-program suksesvol voltooi is nie.

Let wel:

  • Indien Kriminologie tot op derdejaarsvlak gekies word (dit behels maw al die bogenoemde Kriminologie-modules), moet studente ook SLK 220 en SOC 220 neem.
  • Indien Sielkunde tot op derdejaarsvlak gekies word (dit behels maw al die bogenoemde Sielkunde-modules), moet studente ook KRM 210 en SOC 220 neem.
  • Indien Sosiologie tot op derdejaarsvlak gekies word (dit behels maw al die bogenoemde Sosiologie-modules), moet studente ook KRM 210 en SLK 220 neem.

Minimum krediete: 120

Fundamentele modules

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Fundamentele kriminologie
    ’n Algemene inleiding tot kriminologie word verskaf. ’n Oorsig van die faktore wat tot misdaad bydra, forensiese kriminologie en forensiese kriminalistiek word ondersoek.
    Deel 2: Geweldsmisdaad
    Verskeie tipes geweldsmisdade geniet aandag in hierdie afdeling.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Penologie
    Aandag word gegee aan die rolspelers in die kriminele regsplegingstelsel, naamlik die polisie, howe en korreksies. 
    Deel 2: Misdaadvoorkoming en -beheer
    Die aard en omvang van misdaad, teorieë ter verklaring van misdadige gedrag en misdaadvoorkoming en -beheer word ondersoek.

    Die twee afdelings word nie noodwendig in chronologiese volgorde aangebied nie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Integrering van maatskaplikewerkteorie en -praktyk binne ‘n ontwikkelingsgerigte maatskaplikewerkperspektief; relevansie van en blootstelling aan vrywillige werk en kulturele diversiteit. Inleiding tot welsynsdienste binne die praktyk en verskillende velde van dienslewering. Die toepassing van maatskaplikewerkintervensie in die gemeenskap deur middel van ‘n situasie-analise en met groepe en individue by wyse van rolspel binne ‘n laboratoriumopset. Lewensvaardigheidsopleiding ten opsigte van ‘n holisties gebalanseerde lewenstyl, menslike seksualiteit en MIV/Vigs, konflikhantering, selfbeeld en vaardighede in openbare redevoering.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Ontwikkelingsgerigte maatskaplike werk
    Die oorsprong en aard van maatskaplike welsyn en maatskaplike werk vanuit ‘n  nasionale en internasionale perspektief.  Sosio-ekonomiese probleme, teikengroepe, spesialiteitsterreine, intervensievlakke (individuele, gesins-, groep- en gemeenskapsvlak), diensverskaffers en rolspelers in die Suid-Afrikaanse konteks.  Ontwikkelingsgerigte maatskaplike welsyn; die beginsels, waardes, doel en funksies van maatskaplike werk in ’n ontwikkelingsgerigte perspektief. Kultureel-sensitiewe maatskaplikewerkpraktyk.
    Deel 2: Maatskaplikewerkintervensie: Gemeenskap
    Aard en kenmerke van maatskaplikewerkintervensie met gemeenskappe; verkenning van die komponente van gemeenskappe en gemeenskapswerk; die waarde van die ekosistemiese en sterkteperspektief teorie in gemeenskaps¬werk; samestelling van ’n gemeenskapsprofiel en die beginsels van maatskaplikewerkdienste aan gemeenskappe om gemeenskapsmobilisering en -deelname te bevorder.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Maatskaplikewerkintervensie: Individu en groep Kenmerkende eienskappe van die helpende verhouding; die kommunikasieproses; basiese interpersoonlike vaardighede en eksploreringsvaardighede in maatskaplikewerkintervensie met individue. Verskillende tipes groepe; groepsdinamika; leierskap en basiese vaardighede vir groepleiers in maatskaplikewerkintervensie met groepe. Deel 2: Gesinsontwikkeling en -begeleiding Gesinne: Die lewensiklus van die gesin, take en gedrag van die lede van die gesin. Die fokus is op die sosiale, ekonomiese, godsdienstige en kulturele diversiteit van gesinne en oorsake vir gesinsontwrigting.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    'n Algemene oriëntering tot die sielkunde. Inleiding tot verskillende teoretiese benaderings in en die ontwikkeling van die sielkunde as wetenskap word behandel.  Geselekteerde temas uit die alledaagse lewe word bespreek en met sielkundige beginsels geïntegreer. Hierdie module fokus ook op sentrale persoonlikheidsteorieë. 'n Inleiding tot verskillende paradigmatiese benaderings in die sielkunde word gegee.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module is ‘n inleiding ten opsigte van ‘n basiese kennis en begrip van die biologiese basis van menslike gedrag. Die module behels die kernkonsepte en terminologie wat met die biologiese subsisteem verband hou, die reëls en beginsels onderliggend aan biologiese sielkunde en die identifisering van verwantskappe tussen verskillende biologiese sisteme en subsisteme. Verskillende kognitiewe prosesse word bestudeer insluitend persepsie, geheue, denke, intelligensie en kreatiwiteit. Verskeie denkprosesse, soos probleemoplossende, krities-analitiese en integrerende denke word geillustreer.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Die individu en die samelewing
    'n Inleiding tot sosiologie en die klassike sosiologiese paradigma en die beginsels van die sosiologiese navorsingsmetodes.

    Deel 2: Die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse orde

    Hierdie afdeling ondersoek sleutelfaktore wat tot die totstandkoming en vorming van die kontemporêre Suid-Afrikaanse sosiale orde aanleiding gegee het en skenk oorweging aan die sosiologiese implikasies hiervan. Studente word bekendgestel aan die politieke ekonomie van Suid-Afrika, met klem op die aard van die Suid-Afrikaanse industrialiseringsproses, proletariaatvorming, en die instelling van die trekarbeidstelsel. Hierbenewens word die rassestaat, die fondamente van hierdie staat se sosiale projek, sowel as die ruimtelike vorm van Suid-Afrika se 20ste-eeuse rassemoderniteit onder die loep geneem. 

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Die sosiologie van instellings
    Die sosiale dinamiek van samelewingsinstellings soos die gesin, die staat, die ekonomie, godsdiens, onderwys, en burgerlike samelewing met ’n spesifieke fokus op die Suider-Afrikaanse problematiek word in hierdie afdeling behandel.

    Deel 2: Sosiale stratifisering: Ras, klas en gender
    Die aard en dinamiek van sosiale stratifisering en ongelykheid sal ondersoek word. Ras, gender en klas is die fokuspunte van die afdeling. Die Suid-Afrikaanse ervaring word beklemtoon.

    Sien meer

Minimum krediete: 179

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    *Geslote – vereis departementele keuring Voorbereiding, eksplorering en assessering van kliëntsisteme se funksionering met ‘n bewustheid van die maatskaplikewerkwaardes en diversiteit. Aanwending van toepaslike intervensievaardighede, -prosesse, -tegnieke en -modelle ten opsigte van individue, groepe, gesinne en gemeenskappe. Evaluering van uitkomste en toepaslike afsluiting van intervensieprosesse.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Geslote – vereis departementele keuring Deel 1: Maatskaplikewerkintervensie: Gemeenskap Die mandaat van gemeenskapswerk en gemeenskapsontwikkeling binne die konteks van ontwikkelingsgerigte maatskaplike welsyn in Suid-Afrika. Bestudering van die proses van gemeenskapswerk en gemeenskapsontwikkeling met spesifieke fokus op verskeie benaderings tot gemeenskapsassessering, praktykmodelle, insluitend die rolle en tegnieke. Deel 2: Maatskaplikewerkintervensie: Individu en groep ‘n Teoretiese benadering tot werk met individue en groepe binne ‘n multikulturele konteks; kommunikasievaardighede en fases van die hulpverleningsproses.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Geslote – vereis departementele keuring Deel 1: Gesinsontwikkeling en -begeleiding Gesinsfunksionering met spesifieke verwysing na die komponente van die intieme verhouding en gedrag en diversiteit in gesinne, ouerskap en hulpmiddels vir die assessering van gesinne. Deel 2: Spesialiteitsterreine Maatskaplikewerkdienste met individue, groepe en gemeenskappe, asook toepaslike beleid en wetgewing met betrekking tot substansafhanklikheid en gerontologie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Inleiding tot ondernemingsbestuur as vakwetenskap; die omgewing waarin die onderneming funksioneer; die saketerrein, missie en doelstelling van die sakeonderneming; bestuur en entrepreneurskap. Verantwoordelike leierskap en die rol van 'n besigheid in die samelewing. Die keuse van ‘n ondernemingsvorm; die keuse van produkte en dienste; winsbeplanning en kostebeplanning by verskillende bedryfsgroottes; vestigingsfaktore; aard van produksieprosesse en die uitleg van die bedryf. 
    Inleiding tot en oorsig van algemene bestuur, veral betreffende die vyf bestuurstake: strategiese bestuur; hedendaagse tendense en bestuursvraagstukke; finansiële bestuur; bemarking en eksterne betrekkinge.
    Inleiding tot en oorsig van die waardekettingmodel; bestuur van die insette; die bestuur van die aankoopfunksie; bestuur van die transformasieproses met spesifieke verwysing na produksie- en operasionele bestuur; menslikehulpbronbestuur en inligtingsbestuur; korporatiewe bestuur en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module is daarop ingestel om studente in te lei in die studie van regsaspekte wat van besondere belang is vir die maatskaplike werker. Die module sluit die volgende komponente in: Inleiding tot die reg in die algemeen met inbegrip van ‘n oorsig van die bronne van die reg, die Suid-Afrikaanse hofstelsel, die regsprofessie, regshulp en die prosesreg; die personereg, met spesifieke verwysing na die ontstaan en beëindiging van regsubjektiwiteit en ‘n persoon se status in die reg; ‘n inleiding tot die strafreg en straftoemeting en die rol van die maatskaplike werker in die strafproses.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Hierdie module is ‘n voortsetting van die eerste module in welsynsreg wat daarop gemik is om studente vertroud te maak met aspekte van die reg van spesifieke belang vir maatskaplike werkers. Die module bestaan uit die volgende komponente: ‘n inleiding tot die huweliksreg, die huweliksgoederereg en die egskeidingsreg; die gesagsreg met inbegrip van aspekte soos die verkryging, aard, inhoud en inmenging met ouerlike gesag; die rol van die maatskaplike werker in die familieregkonteks.

    Sien meer

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Forensiese kriminalistiek
    Die geïntegreerde aard van sistematiese misdaadondersoek word verken deur die studieveld af te baken in die kriminele taktiek en tegniek.
    Deel 2: Jeugwangedrag
    Die aard, omvang, teoretiese verklarings asook die voorkoming en beheer van jeugwangedrag word ondersoek.

    Die twee afdelings word nie noodwendig in chronologiese volgorde aangebied nie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Viktimologie
    Kontemporêre knelpunte in viktimologie word verken en spesiale aandag word geskenk aan aspekte soos slagoffergebaseerde wetgewing en herstellende geregtigheid.
    Deel 2: Politieke misdrywe
    Politieke oortredings soos korrupsie, sluipmoord en menseregte-oortredings word in hierdie afdeling ondersoek.

    Die twee afdelings word nie noodwendig in chronologiese volgorde aangebied nie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    In hierdie module word menslike ontwikkeling vanaf konsepsie tot adolessensie, asook volwassenheid aan die hand van verskillende teoretiese modelle bespreek. Dit sluit in ontwikkelingsveranderinge ten opsigte van kognitiewe, fisieke, emosionele en sosiale funksionering en die konteks van werk. Tradisionele en kontemporêre teorieë oor menslike ontwikkeling in hierdie fases word bestudeer ten einde die kernvraagstukke wat tydens die kinderjare en volwassenheid relevant is, te verstaan en verklaar.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    In hierdie module word interpersoonlike en groepprosesse vanuit ‘n sosiaal-sielkundige perspektief bestudeer. Temas wat behandel word, sluit in kommunikasie, prososiale gedrag, sosiale beïnvloeding en oorreding, politieke transformasie, groepgedrag en geweld.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Die sosiologie van werk: globalisasie
    Die huidige proses van globalisering op ’n wêreldwye skaal het ’n impak op prosesse wat met verandering en ekonomiese ontwikkeling verband hou Hierdie module bespreek prosesse en debatte oor ekonomiese globalisaring en die globale dominansie van finansiële kapitaal in die laat 20ste en vroeë 21ste eeu. Studente kry die geleentheid om kontemporêre debatte wat met hierdie aangeleenthede verband hou te hersien.

    Deel 2: Gender, die gesin en huishoudings

    Hierdie afdeling fokus op kwessies en teorieë wat betrekking het op ons begrip van huishoudings, gesinne en gender. Dit spreek aangeleenthde soos die dinamiek van gesinstrukture, armoede, die oorlewingstrategieë van arm huishoudings, gendergebaseerde geweld en die maniere waarop die voorafgaande die gesinslewe en -vorme, sowel as kinders en jeugdiges in die besonder, beïnvloed. Klem word daarop geplaas om hierdie kwessies binne ’n Suider-Afrikaanse konteks te ondersoek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Demografie, gesondheid en die samelewing
    Hierdie afdeling ondersoek die dinamiese interaksie tussen demografie en gesondheid aan die hand van Suid-Afrikaanse en internasionale gevallestudies. Die betekenisvolle toename in die wêreldbevolking gedurende die vorige eeu vermeervoudig die sleuteluitdagings wat kontemporêre samelewings in die gesig staar. Die wisselwerking tussen demografiese prosesse, soos morbiditeit, mortaliteit, fertiliteit en mobiliteit, het ’n impak op die grootte van ’n bevolking. Net so word hierdie faktore weer tot ’n redelike mate deur die struktuur sowel as die kulturele konteks van ’n samelewing gevorm. Sentraal tot hierdie proses is besorgdhede oor gesondheid en siekte.

    Deel 2: Kultuursosiologie

    Hierdie afdeling ondersoek temas in kultuursosiologie met ’n fokus op die wyses waarop individue sowel as kollektiewe groeperinge in die alledaagse lewe betekenis konstrueer. Die wisselwerking tussen kultuur en institusionele vorme sowel as sosiale strukture kom ook onder die loep. Studente sal aan die werk van sleuteldenkers in die veld bekendgestel word en kry die geleentheid om ’n onafhanklike essay oor ’n tema in kultuursosiologie te skryf.

    Sien meer

Minimum krediete: 220

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    *Geslote – vereis departementele keuring Beplan en implementeer toepaslike maatskaplikewerkintervensieprosesse en -vaardighede in die praktyk met individue, gesinne, groepe en gemeenskappe onder supervisie van ‘n welsynsorganisasie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Geslote – vereis departementele keuring Deel 1: Maatskaplikewerkintervensie: Individu en gesin Teorieë, modelle, gevorderde kommunikasievaardighede, die genogram en die ekokaart as intervensietegnieke en die intervensieproses soos van toepassing op die individu en die gesin. Deel 2: Gesinsontwikkeling en -begeleiding Die ontwikkeling van kennis ten opsigte van die verskillende vorme van huwelike en gesinne, die gesin en verliese, gesinsgeweld met betrekking tot huweliksgeweld, gesinsmoorde, die dinamiek van die verskillende vorme van seksuele molestering, die effek van seksuele kindermolestering op die lewe van die volwasse persoon en substituutsorg.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Geslote – vereis departementele keuring Deel 1: Metodes en vaardighede in gemeenskapswerk Metodes en vaardighede vir die gemeenskapswerkproses in die praktyk in 'n ontwikkelingskonteks: identifisering van kapasiteit en behoeftes in gemeenskappe, gemeenskapsdeelname en betrokkenheid; mobilisering van gemeenskapsaksie; funksies en vaardighede van ’n gemeenskapsprojekbestuurder; projekbeplanning; gemeenskapsprojekproses. Deel 2: Maatskaplikewerkintervensie: Groep Intervensie met behandelingsgroepe met klem op die proses en vaardighede; gevorderde groepleierskap; teoretiese benaderings tot werk met groepe.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Maatskaplike werk in gesondheidsorg Die eiesoortige aard, behoeftes en dienslewering met betrekking tot maatskaplike werk in gesondheidsorg, geestesgesondheid en persone met gestremdhede. Deel 2: Maatskaplike beleid 'n Inleiding tot maatskaplike beleid. Die aard. kenmerke, omvang en proses van maatskaplike beleid. Die impak van waardes, etiek en maatskaplike regverdigheid op maatskaplike beleid. Konseptuele raamwerk van die beleidsproses.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die aard en ontwikkeling van entrepreneurskap; die individuele entrepreneur en karaktereienskappe van Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Kreatiwiteit en innovasie, die ontdekking en ontginning van ? geleentheid. Die sakeplan en hulpbronvereistes word ontleed. Die begin van die onderneming (“start up”). Ondersoek die verskillende weë/roetes na entrepreneurskap. Toetrede tot familie-ondernemings; die aanskaf van ‘n konsessie (“franchise”); tuisgebaseerde onderneming en die besigheidsoorname. Hierdie semester dek ook hoe entrepreneurs netwerking kan bewerkstellig en ondersteuning vind in hulle omgewing. Gevallestudies van suksesvolle entrepreneurs - ook Suid- Afrikaanse entrepreneurs - word bestudeer.

    Sien meer

Keusemodules

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Misdaadteorieë
    Teorieë wat fokus op die verstaan en verduideliking van oortreding en kriminaliteit word in hierdie afdeling ondersoek.
    Deel 2: Psigokriminologie
    Die verklaring van die verband tussen abnormale gedrag en kriminaliteit geniet aandag in hierdie afdeling.

    Die twee afdelings word nie noodwendig in chronologiese volgorde aangebied nie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Vrouemisdaad

    Die historiese uitsluiting van vroue in die ontwikkeling van Kriminologie-teorie en
    -navorsing word deur ’n epistemologiese lens ondersoek. Geslag- en rasongelykhede in die kriminele regsplegingstelsel word ferm op die agenda geplaas.

    Deel 2: Kontemporêre kriminologievraagstukke
    In hierdie afdeling word kontemporêre misdaadmanifestasies onder die loep geneem.

    Die twee afdelings word nie noodwendig in chronologiese volgorde aangebied nie.

     

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Identifikasie van abnormale gedrag in kinders aan die hand van kennis van normale kinderontwikkeling; inleiding tot die studie van verskeie modelle met betrekking tot abnormale gedrag; verstaan en toepassing van basiese konsept in kinderpsigopatologie. Die module verskaf ook ‘n inleiding tot psigopatologie en simptomatologie van volwasse abnormale gedrag. Terminologie, definisie van abnormale gedrag, probleme met diagnose, etiketering en mites aangaande abnormale gedrag sal bespreek word. Neurose as ‘n spesifieke geestesversteuring word krities bestudeer vanuit ‘n multidimensionele perspektief, insluitend intrapsigiese, interpersoonlike and sosiaal-kulturele verduidelikings.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Die module ondersoek ‘n gemeenskapsielkundige perspektief op menslike ontwikkeling en sielkundige intervensie en verken die bydrae van verskeie perspektiewe in sielkunde op ‘n kritiese wyse. Die module fokus op temas soos definisies van kernkonsepte, -beginsels en -doelwitte van gemeenskapsielkunde, die rol van die gemeenskapsielkundige asook die impak van vroeë denkraamwerke op kontemporêre perspektiewe. Die implikasies van hierdie idees vir praktiese inisiatiewe wat op geestesgesondheid in gemeenskappe fokus, word bespreek. Die module fokus verder op kritiese sielkunde. Kritiese sielkunde is 'n orientasie teenoor sielkunde wat krities staan teenoor die aannames en praktyke van die hoofstroom.  Dit poog om magsvraagstukke aan te spreek soos hul manifesteer in hoofstroomsielkunde.  Die fokus is op ondersoeke na hoe die praktyke en teorieë van hoofstroomsielkunde bydra tot hierdie magsvraagstukke wat gemarginaliseerde groepe betrek.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Sosiale teorie

    Hierdie afdeling fokus op kontemporêre sosiale teorie met die oog daarop om student se begrip van sosiale teorie verby die klassieke kanon te strek. Studente word vetroud gemaak met ‘n kern konseptuele woordeskat, gekose teoretiese paradigmas en onlangse werke in die veld. Hierbenewens word daar klem geplaas op die wyse waarop navorsers wat oor Suid-Afrika werk van sosiale teorie gebruik maak om hulle werk te verryk en om daaraan vorm te gee.

    Deel 2: Arbeidstudies

    Hierdie afdeling spreek sosiologiese benaderings tot die werkplek aan. Dit sluit in ’n kritiese beskouing van arbeidsmarkbeleid en aangeleenthede soos bestuurspraktyk, werk-verskaffing en werkloosheid, asook diskriminasie en buigsaamheid in die arbeidsmark in Suid-Afrika.

     

     

     

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Deel 1: Landelike en stedelike sosiologie

    Teen die agtergrond van die ontstaan en ontwikkeling van sowel die vele gestaltes van kapitalisme as globalisering in die globale Noorde en Suide gedurende die 20ste en 21ste eeu, skenk hierdie afdeling oorweging aan die verhouding tussen landelike en stedelike omgewings. Vrae oor die aard van sosiale interaksie in gemeenskappe, nuwe vorme van sosiale betrekkinge, ongelykheid en bestaansmiddele, kollektiewe aksie, plaaslike kulture en moderniteite word bespreek. 

    Deel 2:  Die sosiologie van godsdiens

    Hierdie afdeling ondersoek godsdiens en sekularisasie binne sosiale konteks. Spesifieke klem word geplaas op godsdiens en die sekularisme as kragte van sosiale verandering.

    Sien meer

Minimum krediete: 120

Kernmodules

  • Module-inhoud:

    As intern by ’n welsynsorganisasie moet die student in staat wees om maatskaplikewerkteorie vanuit ’n ontwikkelingsgerigte benadering in die praktyk toe te pas. Die fokus is op intervensies met individue, gesinne, groepe en gemeenskappe. Intervensies is gerig op voorkoming, vroeë intervensie, statutêre proses en kontinuum van onwikkelingsdienste, met inagneming van relevante beleidsaspekte vanuit ’n plaaslike en internasionale perspektief, met inagneming van die basiese waardes en beginsels van die Handves vir Menseregte soos in die SA Grondwet vervat. Bestuur van eie werkslading.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Geslote – vereis departementele keuring Algemene beginsels in maatskaplikewerkbestuur met spesifieke verwysing na funksies, bestuursetiek en bestuurstyle. Supervisie as ‘n maatskaplikewerkbestuursinstrument met spesifieke verwysing na die funksies, metodes en prosesse van maatskaplikewerksupervisie.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    *Geslote – vereis departementele keuring Oorsig van die konteks en aard van maatskaplike welsyn en maatskaplike dienste in Suid- Afrika; praktykrealiteite en uitdagings; belangrikheid van vennootskappe. Maatskaplike ontwikkeling teen die agtergrond van sosio-ekonomiese en politieke invloede vanuit ‘n internasionale, streeks- en nasionale perspektief as verskynsel. Maatskaplike regverdigheid en verandering van strukturele kragte van onderdrukking, uitsluiting en ontmagtiging deur middel van maatskaplike ontwikkeling. Die impak van die politieke ekonomie en omgewingsuitdagings op maatskaplike en finansieringsbeleide, maatskaplike ontwikkeling en maatskaplike dienste. Verhouding tussen maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling.

    Sien meer

  • Module-inhoud:

    Navorsingskonsepte, navorsingsetiek, tipes navorsing, navorsingsontwerpe en die navorsingsproses, soos van toepassing op maatskaplike werk. Onafhanklike navorsing na aan leiding van 'n relevante onderwerp. Die voltooide navorsingsproses word weergegee in 'n navorsingsverslag.

    Sien meer


Die inligting wat hier verskyn, is onderhewig aan verandering en kan na die publikasie van hierdie inligting gewysig word.. Die Algemene Regulasies (G Regulasies) is op alle fakulteite van die Universiteit van Pretoria van toepassing. Dit word vereis dat elke student volkome vertroud met hierdie regulasies sowel as met die inligting vervat in die Algemene Reëls sal wees. Onkunde betrefffende hierdie regulasies en reels sal nie as ‘n verskoning by oortreding daarvan aangebied kan word nie.

Copyright © University of Pretoria 2024. All rights reserved.

FAQ's Email Us Virtual Campus Share Cookie Preferences